It's in Afrikaans, but Google can translate it for you.
Ouma het altyd vertel hoe sy die buurvrou geroep het om haar te help om die eersgeborene te bad. Sy was te bang sy breek die brose ou lyfie as sy dit self moes doen. Teen die tyd dat Hennie haar vingertjies kon strek, het die klavier in die voorkamer gestaan. Ouma het al van haar eie tienerdae gespaar daarvoor, vir haar blondekopdogter wat sy eendag sou hê. So het alles begin.
Sy is gekoester en geleer om mooi te lyk en aanvallig op te tree. Sy het leer tennis speel en het altyd bekoorlik aangetrek. By die skool was sy besonder skrander, en het gaan onderwys studeer. Na haar kinders se geboortes het sy gaan skoolhou by Transoranje Skool vir Dowes in Pretoria, waar sy jaar na jaar departementele merietetoekennings vir goeie werk ontvang het. Sy was geliefd onder die sesjariges. Ek onthou goed hoe die een outjie altyd onder haar lessenaar ingeklim het en oor haar sykouse gestreel het, soms vir lang tye aanmekaar. Hy was outisties én doof. Sy het instinktief geweet wat hulle nodig het. Dit neem ‘n besonderse mens om twaalf dowe sesjariges dag na dag te versorg en op te voed. Meeste van hulle was in die koshuis en het hul ouers net vakansies gesien. Sy was ‘n warm instaan-ma.
Ek is elf maande na Arina gebore. Dit was sekerlik nie vir haar maklik nie. Selfs die mees georganiseerde vrou moet hare op haar tande hê om twee babas in doeke te versorg. Ons het soos ‘n tweeling grootgeword. Twee willewragtig-dogtertjies wat hulle soos seuns gedra het. Om te keer dat ons soos Tarzan aan die binnegordyne swaai, het ons so nou en dan ‘n skerp waarskuwing van ‘n goedgeplante speld in die soom gekry.
Sy het ons eenders aangetrek met rokke wat sy self gemaak het. In die winter het ons ‘n rits truie gehad wat sy self gebrei het. Haar huis was altyd onberispelik versorg; ‘n vrou met waarde ver bo korale.
Maar mens kan nie altyd kies wat die lewe jou opdien nie. Ma se veertigerjare het haar getref met depressie en migraine. Sy het al meer in haarself gekeer. Toe ek en Arina die nes verlaat, het sy haarself alleen bevind. Sy was skielik sonder man én kinders.
Een goeie aand hoor ons Ma gaan op ‘n ‘date’. ‘n Engel met die naam van Albie raak toe verskriklik lief vir haar. Die gevoel was wederkerig. Sy het weer gelewe. Albie het haar op die hande gedra, en sy het hom versorg met elke greintjie krag wat sy gehad het. Twintig jaar se daaglikse liefdesbriefies en kaartjies vertel die storie van twee mense wat onvoorwaardelik vir mekaar gegee het. Die lewe saam was genoeg.
Hulle het ‘n tuiste gemaak; hulle was albei ewe lief vir mooi huis-goed. Elke item het ‘n storie gehad. Hulle het soos kinders gegiggel en Albie het vir Ma rondgery waar sy ook al wou heengaan. Met haar weeklikse haarafspraak sou hy en die miniatuur Toy Pom-hondjie Mitzi, voor die salon in sy motor sit en wag.
Toe Albie siek word, was dit Ma se beurt om te versorg. Sy gesondheid het akuut agteruitgegaan, en sy het saam met hom in die Kaap kom wag vir nuwe hart. Ses maande het hulle gewag. Sy het hom ondersteun en rondgery en die Kaapse wind verdra. Na ‘n suksesvolle oorplanting was die lewe weer mooi. Vir ‘n geruime tyd het alles goed gegaan.
In wat ‘n klein operasie sou wees, het ‘n mislukte mediese ingreep Ma se lewe vir altyd verander. Na ses maande in ‘n koma het sy wonderbaarlik genoeg herstel om huis toe te gaan. Alhoewel sy oënskynlik gesond was, het haar liggaam ingewikkelde sorg nodig gehad. Onooglike operasieletsels het haar selfbewus laat voel, en die koma het onomkeerbare skade aan haar breinfunksie veroorsaak. Sy kon nie meer brei nie en daaglikse roetine-takies soos kosmaak was nie meer vir haar lekker nie. Albie het haar vir jare vertrou versorg. Hulle het nie meer funksies bygewoon nie. Ma was selfbewus en Albie het daarmee empatie gehad. Altwee was redelik sieklik.
Na Albie se heengaan het Ma alleen in die huis aangebly. Dit was vir haar moeilik om nuwe vriende te maak. Sy het vereensaam en haar hondjie was die enigste geselskap. Na ‘n ernstige terugslag twee jaar gelede het ons besef dat sy nie meer op haar eie kon funksioneer nie. Alhoewel sy nog nooit regtig van die Kaap gehou het nie, wou sy nader aan my, haar enigste oorblywende dogter, en haar broer Manie wees. Desnieteenstaande het sy altyd gehunker na die dae saam met Albie.
Avondrus het haar tuiste geword. Die personeel het haar met deernis, respek en liefde versorg. Selfs in die tye toe sy maar moeilik geraak het, was hulle geduldig. Desiree en Suster Jonkers het haar laat sit en gesels in hul kantoor. Wanneer die werk oorweldigend baie geraak het, het hulle nog steeds haar vertroos en tot op die laaste haar ongemak probeer verlig. Ek sal hulle altyd dankbaar bly.
Dankie aan almal wat haar vriende wou wees, wat met haar moeite gedoen het, en probeer het om haar las ligter te maak.
Franci
-
No comments:
Post a Comment